Jip, hier kom ‘n ding…

Ek kyk Buurman so toe hy uiteindelik sy verskyning op die balkon maak en ek weet sommer, hier kom ‘n ding.

Goeie dag gehad, vra ek onskuldig, want ek kan ‘n myl ver sien daar was niks goed in die klompie ure wat Buurman vandag wakker was nie.

Gmf, sê hy hy’t een van daai dae gehad wat hy elke paragraaf vyf keer moes lees tot hy tot die gevolgtrekking moes kom dat hy óf per ongeluk die Griekse vertaling beetgekry het, óf hy’t een van daai dae…

Hmm, sê ek, want dit lyk my die dag sleep maar nog so agter Buurman aan, nes ‘n nors kind wat nie wil gaan bad nie.

Ek hou die dalende son stip dop en dwing hom omtrent om te loop lê. Sy laaste straal het skaars tyd gehad om vir oulaas vir ons te knipoog toe wend ek my tot Buurman en haal diep asem om vir hom te help verstaan dat die daai-dag nou oor is en dat hy nou maar oor homself kan kom want die lewe is nou wraggies darem nie so erg nie en hy het sy gesondheid en ‘n dak oor sy kop en dis meer as wat baie ander kan sê en hy kan nie verwag elke dag moet elke ding loop soos hy smaak nie nie en hy kan ook maar bietjie verontrief word want die hemel weet hy’t ‘n sagte beroep as hy nou kyk wat ander mense moet doen om darem ook ‘n brood en bietjie wyn en darem ‘n lekker stukkie kaas op die tafel te sit en al wat hy doen is gmf en kla en dis omtrent hoog tyd dat hy sit en ‘n lysie maak van sy oordadige seëninge, maar my longe is nog halfpad aan die inasem, toe sug Buurman. Nie ‘n swaar sug wat so voor mense voete morsdood neerval nie. Nee, so ligte suggie wat op sy balkon rondtrippel.

Vanwaar die wulpse suggie, wil ek vra maar ek verstik eers in my wyn wat saam met die asem by my keel wil infoeter. Ek konsentreer so om nie enige van die rooigoed in my glas te mors nie, dat ek eers ‘n minuut of wat later sien Buurman sit met sy oë toe en sy mond in ‘n glimlag wat dreig om agter sy kop hand vas te hou. Sy bier staan vergete by sy voete en warm word.

Uhm, sê ek met die bedoeling dat dit ‘n vraag moet wees, maar Buurman hoor niks en ek oorweeg of ek my moet vererg oor hy ongeskik is, en of ek maar moet swig voor die agie in my. Swig die swig ek en maak my keel luid skoon. Ek wil darem ook nie te gretig voorkom nie.

Geen reaksie.

Ek kug.

Niks.

Ek nies ‘n paar keer, sulke hooikoorserige niese.

Niks.

Ek is nie van nature nuuskierig nie. Van nuuskierigheid loop die tronke hoeka oor. O, nee, dis van ledigheid. Die Engelse nuuskierigheid maak katte dood en die Afrikaanse nuuskierigheid is seker skuldig aan ewe donker dade. In elk geval is ek en Buurman nie die soort bure wat mekaar se drumpels plat kuier nie. So van nuuskierigheid kan hy my nie aankla nie, maar magistraat, mens kan ook net so lank kyk hoe iemand met sy toe oë sit en grinnik soos ‘n perd wat suikerklontjies bedel voordat mens jou geregtig ag om te weet hoekom. En voel juis hoe so ‘n geregtigheid by my opstoot en as voorstaander van reg en geregtigheid voel ek my genope om prontuit te ‘n paar vrae aan die beskuldigde te stel. Dis my plig as wetsgetroue landsburger om agter die kap van die byl te kom en het hoegenaamd en geensins iets te doen met die agie in my wat uit haar nate wil bars nie. As medereisiger op die lewenspad is ek geroepe om Buurman in sy uur van nood by te staan en enigiemand kan sien die man het ’n behoefte daaraan om van die oorvloed inligting in sy boesem ontslae te raak, voor dit sy bloeddruk opjaag en hy persluiks iets oorkom en welke geval dit die barmhartige ding sal wees om hom van ‘n gewillige oor te verseker. Ek kan al klaar sien hoe die situasie handuitruk en loer stilletjies om seker te maak ek het die ambulans, polisie, brandweer en kerkman se nommers in my selfoon want ek wil voorbereid wees, oos wat my drie-weke Voortrekkerlidmaatskap my geleer het. Soos ‘n ma-hen kloek ek al hierdie gedagtes op ‘n bondel en projekteer hulle oor die grensmuurtjie tussen ons na Buurman toe, met ‘n sekere mate van haas want daar is dors mense in die wêreld en Buurman se bier staan nog steeds onaangeraak by sy voete en dis darem baie onsensitief van hom.

Niks.

Jou bier word warm, sê ek. Gaaf, soos ordentlike bure wat nie onnodig in mekaar se sake snuffel nie.

O, ja, sê Buurman, dit was een daai dae, sjoe dis al al amber donker, hy moet maar aanstaltes maak, lekker aand vir jou (dis nou ek).

Net so. Maar met so skelmrige glimlag wat sê dit was nou pret om my so op te wen, al moes hy nou ‘n bier daarvoor opoffer.

Vervlaks. Maar nou weet ek ten minste ek kan gedagtes besonder goed projekteer. Iewers sal daar ‘n gulde geleentheid wees om hierdie gawe ten volle te benut.

Wag maar, Buurman, wag maar, dink ek en gooi die gedagte so terloops oor my skouer terwyl ek opstaan om gisteraand se oorskiet pasta warm te maak…ek weet mos nou die gedagtetjie sal langsaan op sy skouer spring en in sy oor fluister sodat hy vir die volgende paar dae, weke, maande op sy hoede gaan wees vir ‘n teenaanval.

En dis vir seker beter vermaak as TV.

Advertisements

1 Comment

Filed under Uncategorized

One response to “Jip, hier kom ‘n ding…

  1. Pingback: Jip, hier kom ‘n ding… « gazillionshadesofgreen

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s